Hokkaido Inheemse naam: 北海道 | |
---|---|
Topografiese kaart van Hokkaido | |
Geografie | |
Ligging | Oos-Asië |
Koördinate | 43°N 142°O / 43°N 142°O |
Argipel | Japanse Argipel
|
Oppervlakte | 77 981,87 km² |
Hoogste punt | Asahidake 2 290 m |
Administrasie | |
Japan
| |
Hoofstad | Sapporo |
Grootste stad | Sapporo (1 890 561)
|
Demografie | |
Bevolking | 5 377 435
|
Bevolkingsgroepe | Japanners, Ainoe |
Die wêreld se 21ste grootste eiland en die tweede grootste eiland van Japan |
Hokkaido (Japannees: 北海道, Hokkaidō, [ho̞k̚kaido̞ː], , letterlik: "Noordsee-stroombaan"; Ainoe: Ainu Mosir, voorheen bekend as Ezo, Yezo, Yeso of Yesso) is Japan se tweede grootste eiland en die mees noordelike van die 47 Prefekture van Japan. Dit word deur die Tsugaru-seestraat van Honsjoe, die Japanse hoofeiland, geskei. Intussen word die twee eilande egter deur 'n onderwatertonnel, die Seikan-tonnel, met mekaar verbind.
Hokkaido vorm saam met Honsjoe, Kioesjoe en Sjikokoe die vier hoofeilande van die Japanse Argipel tussen die See van Japan in die weste en die oop Stille Oseaan in die ooste. Dié eiland grens in die weste aan die See van Japan, in die noordooste aan die See van Ochotsk en in die suidooste aan die Stille Oseaan. Hokkaido is in die suide van die Russiese eiland Sachalin en in die suidweste van die omstrede Koerile geleë.[1]
As die Noordelike Gebiede – eilande noord van Hokkaido – ingereken word, beslaan die eiland met sowat 83 500 km² 'n vyfde van Japan se oppervlakte. Sapporo is die hoofstad en belangrikste stedelike gebied.
Alhoewel Hokkaido slegs anderhalf vlieguur noord van die Japanse hoofstad Tokio geleë is, word na die yl bevolkte eiland (sy 5,4 miljoen inwoners verteenwoordig minder as vyf persent van Japan se algehele bevolking) met sy ongerepte woude en wildernis dikwels as Japan se "laaste grens" verwys. Hokkaido se vulkane behoort tot die Ring van Vuur wat die Stille Oseaan van Nieu-Seeland in 'n boog tot by Chili omsirkel.